JESUS SELF IS ONS SEKURITEIT

11:07 AM

"Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie." Joh. 14:27 
Sonder die vrede van Jesus in ons binneste is ons soos 'n klein bootjie sonder 'n anker op 'n baie groot en onstuimige see. Die wêreld waarin ons leef met al sy onsekerhede, woelinge en onvoorspelbare gebeurtenisse is soos die onstuimige see waarop ons lewensbootjie vaar. Daarom is dit uiters belangrik vir dissipels van Jesus om te verstaan dat die vrede van Jesus 'n onveranderlike en vaste werklikheid is wat gewaarborg word deur ons posisie in Hom by die Vader. As Jesus beweeg kan word van Sy plek aan die regterhand van die Vader kan ons vrede in Hom versteur word, maar Hy kan nie en daarom is ons sekuriteit in 'n deurmekaar wêreld onveranderlik! Solank as wat ons, ons oë op Jesus hou, is daar niks op hierdie aarde wat ooit ons ekwilibrium kan versteur nie. Ons sekuriteit is meer as net 'n gawe, dit is Jesus self en daarom is dit vir ewig gewaarborg. Wat 'n vreugde! Wat 'n voorreg! Plaas jou hele geloof daar, nie op finansies, besittings, eiendom, politiese of godsdiens instansies of op enige mens nie. Jesus alleen is ons ewige sekuriteit by die Vader.

You Might Also Like

0 comments