“BROERS” EN “DIENAARS” PROBEER NIE BEÏNDRUK MET TITELS NIE

11:09 AM

“Een is julle leermeester…julle is almal broeders.”  Sjoe! Eina!  Jesus sny met die vlymskerp swaard van die Gees deur die godsdienstige hiërargie van Sy tyd en gee vir ons in ‘n paar kort stellings die radikale bloudruk vir leierskap in die koninkryk van God.  Onthou dit is Jesus self aan die woord hier:  “En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges  en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!  Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.”  Mattheüs 23:6-11    
Dit is die gesalfde Koning van God wat vir Sy dissipels met gesag instruksies gee oor hoe outoriteit en leierskap moet funksioneer in die nuwe era wat aangebreek het met Sy koms na die aarde.  Dit is Sy duidelike instruksies aan al Sy dissipels vir alle tye.  Dit is nie voorstelle wat ons maar net kan ignoreer of wegredeneer, omdat ons reeds ‘n ander kultuur in ons gemeentes gevestig het nie.  Nee, ons moet ons kultuur dringend aanpas by wat ons Koning en Meester leer.  Jesus verklaar onomwonde en sonder om woorde te mors dat Hy die een unieke Rabbi en leermeester is aan wie almal verslag moet doen en dat ons status, ongeag ons bediening of rol, altyd net die van ‘n “broer” en ‘n “dienaar” bly.  Ons leef in ‘n tyd waar mense ander probeer beïndruk en poog om ‘n gesagsposisie te vestig deur hulleself “apostel”, “profeet”, “evangelis”, geestelike “vader” of iets dergeliks te noem. Vroeër jare was dit primêr “pastoor” of “dominee” wat die godsdienstige hiërargie in Protestantse gemeentes bepaal het.  Maar of dit nou apostel, profeet, pastoor of leraar is, dit is in wese funksies in die koninkryk, nie titels nie.  In die koninkryk van God is dit nie soos in die wêreld ‘n titel of ‘n formele posisie of aanstelling wat respek vestig en handhaaf nie, maar ons oortuiging dat Jesus ons álmal se Hoof is en dat ons daarom met nederigheid as broers aan mekaar onderdanig moet wees en mekaar se verskillende rolle in die koninkryk moet eer.  Dit is eers wanneer ons oë oopgaan om te sien dat Jesus steeds teenwoordig is deur Sy Gees vandag en nie Sy gemeente in die hande van mense gelos het nie (al gebruik Hy mense as instrumente) dat ons skrifgedeeltes soos Mattheüs 23 werklik ernstig sal begin opneem.

You Might Also Like

0 comments